Van Kraal Uitgewers na AfriForum Uitgewers – nuwe naam, dieselfde topgehalte

Kraal Uitgewers het in 1999 tot stand gekom toe die legendariese joernalistieke fotograaf Paul Alberts en kol. Frik Jacobs, ’n voormalige direkteur van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein, saamgestem het dat ’n uitgewery nodig was om werke en unieke beeldmateriaal oor die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) te publiseer. Alberts en Jacobs het albei ’n groot liefde vir die geskiedenis van dié oorlog gehad.

In 2010 het Kraal deel van die Solidariteit Beweging geword – steeds met die behoud van die fokus op gehaltewerke oor Afrikanergeskiedenis. Die aanvullende doel het egter bygekom om ook werke oor aktuele, eietydse onderwerpe en aksies van die instellings van die Solidariteit Beweging wat hiermee verband hou, te publiseer.

Wêreldwyd staar uitgewers en boekhandelaars groot uitdagings in die gesig. Mense lees minder; die internet skep die gevaar van intellektuele eiendomsdiefstal; die swak ekonomie benadeel boekverkope, en boekhandelaars dring aan op hoë persentasies afslag wat kleiner uitgewers se wins ingrypend laat inkrimp, om net enkele probleme te noem.

Die Solidariteit Beweging het besef dat ’n uitgewery ’n kragtige instrument is om bewusmaking oor ons erfenis te skep en idees in die gemeenskap uit te bou. Gevolglik het Solidariteit en AfriForum in 2014 gelyke vennote in Kraal geword. Die uitgewery se aktiwiteite is sedertdien uitgebrei – kinderboeke word gepubliseer, so ook enkele letterkundige werke. Sommige boeke wat elders uitgegee word, word op besending geneem en saam met dié van Kraal aanlyn en in ’n eie boekwinkel in Kloofsig, Centurion verkoop. Verder word verwante produkte soos dekoritems, kleredrag en bordspeletjies wat ’n taal- of geskiedkundige tema het, verkoop. Stalletjies word dikwels by markte en ander byeenkomste bedryf, waar die personeel van die uitgewery en die publiek saam kan kuier en oor ons gemeenskaplike liefde vir boeke, Afrikaans en ons geskiedenis kan gesels.

Bewyse van die hoë standaard van Kraal Uitgewers se publikasies is die feit dat drie van die ontvangers van die Jan H. Maraisprys (omskryf as “die hoogste erkenning vir ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal deur wetenskaplike werk en publikasies op hoë vlak en van hoë gehalte in Afrikaans”) die afgelope vyf jaar werke deur Kraal gepubliseer het. Aansluitend daarby is dr. Jackie Grobler se boek Die Eerste Vryheidsoorlog, 1880-1881 in 2019 aangewys as wenner van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Protea Boekhuisprys vir die beste gepubliseerde werk in geskiedenis in Afrikaans van 2016 tot 2018.

As deel van ’n begrotingsherfokusproses, sal AfriForum van 2023 af die enigste aandeelhouer in die uitgewery wees. Om hieraan die nodige erkenning te gee, is besluit om die naam van die uitgewery na AfriForum Uitgewers te verander. Dit sal deel wees van die uitgebreide media-aanbod van AfriForum.

Die naamsveranderingproses vind reeds plaas. Wat egter nie gaan verander nie, is die fokus en gehalte van die publikasies wat hier verskyn. Dit sal steeds veral objektiewe werke oor minder bekende aspekte van ons geskiedenis, taal en kultuurgeskiedenis wees, asook eietydse temas waaraan instellings van die Solidariteit Beweging aandag gee. Ons kan dus sê dat die uitgewery bloot uit die kraal tuisgekom het in die stal van AfriForum.

Ons bedank ons lojale ondersteuners en sien saam met hulle uit na die nuwe opwindende hoofstuk in die geskiedenis van hierdie unieke uitgewery.

Profiele geskep op kraaluitgewers.co.za is steeds geldig op die nuwe AfriForum Uitgewers-webwerf. Teken gerus in en koop na hartelus!